Die feesdirekteur aan die woord

Joris CornelissenDit was eers in 2007 dat ek vir die eerste keer Suid-Afrika besoek het en ek is oombliklik gefassineer deur die land, die ruimte die verskeidenheid van die mense en sy ingewikkelde en boeiende geskiedenis. Maar daar is meer: Afrikaans was tydens my reise méér as ’n ekstra bonus, dit het méér as bloot ’n reis deur “’n mooi vakansieland” gemaak. In my belewing het my reise daardeur meer diepgang gekry en het die kontakte met die Suid-Afrikaners wat ek ontmoet het, intenser, maar ook gewoner geword. Miskien is dit aanmatigend om hier Nelson Mandela aan te haal wat, vry vertaal, gesê het dat as jy met iemand in sy moedertaal praat, jy deurdring tot sy hart. Natuurlik het my liefde vir Afrikaans ook alles te make met my verbondenheid met Nederlands, hoewel elke (moeder)taal vir my waardevol is.
Terug in Nederland is ek vasbeslote om Afrikaans my eie te maak, en ek leer dit spelenderwys deur te luister na cd’s van Chris Chameleon en Amanda Strydom en deur Afrikaanse boeke te lees (dankie Ingrid Winterbach en E.K.M. Dido) en, baie belangrik, deur eenvoudigweg te val en weer op te staan. Dit gee vir my baie voldoening en uiteindelik ook die motivering om die Afrikaanse Fees te organiseer, uiteraard met die ondersteuning van ’n fantastiese span organiseerders.

’n Ernstige noot
Europeërs besef dikwels nie dat dit nie vanselfsprekend is dat jy jou taal oral in jou land kan praat nie. Vir baie Suid-Afrikaners is dit heeltemal anders. Die land ken heelparty tale soos Zoeloe, Xhosa, Afrikaans en Engels, maar die regering heg min belang aan hierdie taalverskeidenheid en stimuleer net Engels. Dit is eienaardig, want Zoeloe, Xhosa en Afrikaans is die grootste drie moedertale in Suid-Afrika. Die meeste Suid-Afrikaners dink en doen in daardie drie tale; minder as 10% se moedertaal is Engels. Merkwaardig en opvallend. Die getal leerlinge wat by die skool uitval, is onvoorstelbaar hoog. Dit word deels veroorsaak deur die feit dat baie kinders Engels nie of onvoldoende magtig is: frustrasie en gebrekkige oordrag van kennis dreig hier, die kinders se ontwikkeling val vas. Afrikaans is onlosmaaklik met die land Suid-Afrika verbind. Behalwe dat dit ’n pragtige en kleurryke taal is, is dit ook ’n kragtige middel vir die ontwikkeling van ’n deel van die Suid-Afrikaners, soos die ander inheemse tale en Engels dit ook is.

En ’n optimistiese noot
Uit die volkstelling wat onlangs gehou is, blyk dit dat die getal Afrikaanse moedertaalsprekers in tien jaar tyd met een miljoen gestyg het tot sewe miljoen. Die meeste moedertaalsprekers word gevind in die tradisioneel bruin en wit gemeenskappe, maar ook baie swart Suid-Afrikaners beheers die taal as tweede of derde taal en soms as moedertaal. Ook in Namibië word baie Afrikaans gepraat. Afrikaans bloei in kulturele opsig soos nooit tevore (musiek, media, kultuurfeeste) en Suid-Afrikaners praat weer onbeskaamd Afrikaans. En dis soos dit hoort: taal is van die mense, en van niemand anders nie.

Ek wens u ’n aangename en inspirende Afrikaanse Fees toe.
Joris Cornelissen.

Comments

comments